Ja vir Bennett kan baie van Zim na SA bring (Beeld)

 

Indien mnr. Roy Bennett, bekende Zimbabwiese opposisielid, 'n regverdige verhoor kry van Suid- Afrika se onafhanklike appèlraad, sal hy ingevolge die wet "baie beslis" as politieke vlugteling kwalifiseer, meen Bennett en sy regsverteenwoordiger.

Dít kan verreikende implikasies hê vir honderdduisende Zimbabwiërs wat om politieke redes na Suid-Afrika gevlug het of graag hier sou wou bly. Bennett het gister vir die eerste keer op 'n mediakonferensie oor sy aansoek om politieke asiel gepraat en gesê die beweging vir demokratiese verandering (MDC) het spesifiek besluit dat hy in Suid-Afrika om asiel aansoek moet doen "om die Suid-Afrikaanse regering eens en vir altyd te konfronteer met wat in Zimbabwe gebeur".

"Ek kon maklik in Brittanje, Australië, Nieu-Seeland of Amerika asiel gekry het, maar ek het hiernatoe gekom," het Bennett ná die mediakonferensie gesê. Bennett meen Suid-Afrika moet die MDC as die regmatige opposisie erken en begin besef "Mugabe se totalitêre regime is besig om die hele Afrika ondertoe te trek".

Die Zimbabwiërs wat Suid-Afrika toe gevlug het, "kan nie wag om terug te gaan huis toe nie", maar word weens die politieke situasie gedwing om hier te wees, het hy gesê.Sy eerste aansoek om politieke asiel is op 23 Mei deur die departement van binnelandse sake se kommissaris vir die bepaling van vlugteling-status afgekeur.

Bennett, wat al jare deur Mugabe se regering bedreig word, se argument dat hy nie regverdig deur howe in Zimbabwe behandel sal word nie, is verwerp. Ingevolge 'n dokument van die vlugteling-ontvangskantoor is die howe in Zimbabwe "sekerlik onafhanklik" en word "die regte van individue" wel in dié land gerespekteer.

Bennett het hierna aansoek gedoen om appèl voor die vlugteling-appèlraad, 'n onafhanklike raad van regsgeleerdes, het mnr. Jacob van Garderen, sy regsverteenwoordiger, gesê. "Suid-Afrika se vlugtelingwet is baie progressief. Bennett se vrees vir politieke vervolging is beslis geregverdig."  Tog het net 30 000 mense volgens Van Garderen sedert 1994 politieke asiel in Suid-Afrika ontvang, van wie net enkeles Zimbabwiërs is.

Sedert begin vanjaar het 7 211 Zimbabwiërs aansoek gedoen om politieke asiel, maar wag nog vir die uitslag van hul aansoek. Die wet bepaal dat mense wat weens "ernstige ontwrigting van die openbare orde" in hul tuisland uit die land vlug, asiel mag kry.

Me. Elinor Sisulu, verteenwoordiger van die Zimbabwiese Krisiskoalisie in Suid-Afrika, meen slagoffers van Mugabe se omstrede "skoonmaakoperasie" waarin sowat 700 000 mense hul huise verloor het, kan waarskynlik ook as vlugtelinge beskou word.

Liesl Louw